Video: Mathews Phosa gesels oor Deur die oog van 'n naald
Mathews Phosa is baie lief vir Afrikaans en skryf spontaan in dié taal.
Só sê die tesourier-generaal van die ANC in ‘n video van NB Uitgewers op YouTube. Phosa se digbundel Deur die oog van ‘n naald is onlangs heruigegee met 15 nuwe gedigte.
Phosa skryf “oor die politiek, oor die lewe, oor die liefde, oor die haat, oor die frustrasie, oor die verwagtinge”.
Video: Onderhoud me Mathews Phosa (no 1 van 2)
Oor die boek
“Dit bly vir my ironies – en soms was dit vir my pynlik ongemaklik – dat ek selfs in die moeilikste dae in Afrikaans gedig het, en my diepste pyn daarin verwoord het.”
So skryf Mathews Phosa, spreker van nege tale, oor die taal waarin hy sy skoolopvoeding ontvang het, en wat hy as ‘n soort moedertaal in sy lewe beskou.
Sy digkuns is gelukkig nooit gesien as ‘n manier om “die taal van die onderdrukker” populêr te probeer maak nie. Poësie het ‘n manier om deur ideologiese versperrings te breek en harte te raak.
Vandag is Afrikaans saam met die ander inheemse tale bevry, en die digter doen ‘n beroep: “Kom ons oefen ons tonge los, sodat ons deur ons pragtige, rou, ritmiese tale die wonde van die verlede kan help genees.” Vanweë sy druk politieke program bestempel Mathews Phosa homself as ‘n “sigaretdoos- en notulepapierdigter”. Agter op ‘n sigaretdoos staan gekrabbel: “. . . een man se vryheid is nie die ander man se enslavement nie . . . apartheid moet stop vir almal . . . wit apartheid is so sleg soos swart apartheid”.
Sy gedigte is ‘n snelskrif waardeur diep verskuilde gevoelens tot uiting kom: vernedering, woede, verset, triomf, en uiteindelik verootmoediging in gebed.
Dié hersiene uitgawe bevat 15 nuwe gedigte wat hy spesiaal vir dié bundel geskryf het.
Boekbesonderhede
- Deur die oog van 'n naald deur Mathews Phosa
Boektuisblad
EAN: 9780624047506
Find this book with BOOK Finder!