Toe die son een oggend taaierig loskom uit die greep van Goudveldse mynhope, skop Joe Smit sy slaapkamerdeur oop, stap tot by die dubbelbed waar twee figure vervaard probeer orent kom en trek die sneller van sy 9 mm Astra twee keer. Hy klim in sy ou Mazda en ry noord, weg van die plek waar alles vir hom begin en geëindig het, en terug in sy verlede in. Daar is nog sewe patrone in die Astra se magasyn.
In ’n Goudveldse bordeel laat ’n telefoonoproep Peet Gagiano hom loswikkel uit die klewerige greep van ’n rooikop: Sy seun en dogter is ontvoer. En toe die kinders later in ’n verlate motor se kattebak gevind word, is daar op elkeen se stuitjie ’n kopbeen uitgekrap – byna dieselfde tatoeërmerk as wat hul pa op sy arm het. By ’n besige kruising in die N12 hou superintendent Pine Pienaar stil by ’n silwer Mercedes wat dwarsweg oor die middelman hang.
In die tweede sup. Pine Pienaar-misterie, Bottelnek, vermeng Piet Steyn twee van die stormagtigste plaaslike werklikhede, ’n mynersbestaan en die Johannesburgse onderwêreld, in ’n intrige wat lesers nagte lank sal laat rondrol.
Oor die outeur
Piet Steyn is op 28 Augustus 1944 op Odendaalsrus in die Vrystaat gebore. In hierdie windverwaaide sandwêreld het hy grootgeword en matrikuleer aan die Hoërskool Wessel Maree. Ná sy skoolloopbaan het hy by die Lugmag aangesluit vir sy militêre diensplig; daar kwalifiseer hy as ’n navigator. Hy verwerf die graad B.Sc met Wiskunde en Fisika as hoofvakke asook die Hoër Onderwysdiploma aan die Potchefstroomse Universiteit. Daarna het hy by Hoërskool Kroonstad begin skoolhou.
Gedurende 1968 gaan hy egter terug goudmyne toe, maar na ’n ongeluk ondergrond besluit hy om sy loopbaan as onderwyser voort te sit by Welkom Gimnasium. In dié tyd verwerf hy B.Ed en M.Ed buitemuurs aan die Universiteit van die Vrystaat.
In 1984 word hy skoolhoof van Vrede Hoërskool waar hy die twee groot liefdes in sy lewe – wiskundeonderrig en rugbyafrigting – met groot sukses beoefen tot en met sy aftrede in 1996. Om die verveeldheid van die pensioenjare te help verdryf, het hy selfs ’n ruk lank in Engeland gaan wiskunde doseer.
Dit is eers in 2005 dat hy bewus word van sy skryftalent toe hy begin om vir ‘n plaaslike koerant ’n weeklikse rugbyrubriek te skryf.
In dieselfde tyd waag hy ook sy hand aan ’n kortverhaal wat met die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se landwye wedstryd as wenner aangewys word. Hy het ook ’n komiese skets in Huisgenoot gepubliseer. Die eiland van die slang, ’n radiodrama, kom tweede in RSG/Sanlam se kompetisie vir debuutskrywers. In 2007 word sy debuutroman, Snoeiskêr, aangewys as ’n finalis in Sanlam/Insig se Groot Romanwedstryd.
Uittreksels uit resensies
“Steyn se skryfstyl is reguit, met baie dialoog en sonder borduurwoorde. Die vele raaisels, intriges en spanning wat die leser vasvang, maak dat jy dié roman moeilik neersit.” – Tienie Holtzhausen, Beeld (2008)
“Want Steyn kán skryf: sy dialoog en karakterisering is knap en om ’n storie te vertel op onderhoudende wyse is ’n gawe wat moeilik aangeleer kan word.” – Hennie van Coller, Volksblad (2008)
Boekbesonderhede
Please register or log in to comment