
Koos Kombuis is ‘n bekende en (meestal) geliefde figuur in die Afrikaanse musiek bedryf. Sy nuutse boek Die Tyd van die Kombi’s kyk vanaf die binnekring, terug na die onlangse geskiedenis van die bedryf en die rolspelers, ondermeer Johannes Kerkorrel. Willemien Brümmer het ook ‘n onderhoud met hom gedoen vir Die Burger – meer hieroor onderaan die uittreksel.
In daardie tye van afwagting van die laat-tagtigs, voordat die eerste Kombi’s ons lewens binnegery het, het ons elke dag heeltyd na rock ’n roll geluister op die Hi-Fi wat in die hoek van Dirk se girlfriend se sitkamer gestaan het. Ons gunsteling-band was The Waterboys. Ons gunsteling-song van The Waterboys was “That was the River, this is the Sea”. Ons het daai song oor en oor gespeel. Ons het geweet wat die betekenis van die song was: die eerste paar kabaretvertonings wat ons saam in die Sterrewag-teater in Bloemfontein gedoen het – dit was hoekom ons daar was, Dirk het dit gereël, hy het ons genooi – was f*kk*l in vergelyking met wat volgende sou gebeur.
Die meeste van ons voorgevoelens was goed. Maar daar was oomblikke van twyfel.
Daar was byvoorbeeld die nag toe Kerkorrel aan my erken, tydens ’n private gesprek: “Ek ly aan depressie.”
Ek het nie geantwoord nie. Ek het geen idee gehad waarvan hy praat nie. Malheid? Dit het ek geken. Hartseer? Dit was normaal. Ek was, as gevolg van dure ondervinding, in my eie lewe reeds vertroud met ’n hele spektrum ekstreme emosies: woede, frustrasie en haat tot by disoriëntasie en waansin, ja, selfs waansin in van sy ergste vorms?.?.?.
Die Tyd van die Kombi’s is ook in Engels beskikbaar as Short Drive to Freedom Hier volg ‘n onderhoud met Kombuis oor die boek en die ervarings wat hy toeka se tyd beleef het.
Koos Kombuis se boek, ’n persoonlike blik op die onlangse Afrikaanse musiekgeskiedenis, Die Tyd van die Kombi’s, het pas verskyn. WILLEMIEN BRÜMMER het hom sewe moeilike vrae gevra oor die rock-rebellie wat sy lewe sou verander.
Jy skryf in die voorwoord die boek het aanvanklik stadig gevorder omdat dit vir jou ’n traumatiese proses was om die
verlede weer op te diep. Watter dele was vir jou die pynlikste om te skryf? En, in retrospek, dink jy die skryfproses het heling gebring?
Dit klink seker belaglik, maar die moeilikste deel van die proses is om nou, ná die skryf van die boek, vrae daaroor te beantwoord. Om die boek te skryf was ook moeilik, maar dit het vir my ongelooflike heling gebring. Ná die editing proses het ek dit alles begrawe en agter my gesit. Nou word ek gedwing om weer daarna te kyk.Gelukkig was die uitgewers en die media sover baie inskiklik deur my voorwaarde te aanvaar dat ek slegs onderhoude per e-pos doen. Al is ek mal oor Coenie de Villiers, kan ek my nie voorstel dat ek in die Kwela-ateljee met hom sou kon sit en chat oor heavy goed soos Kerkorrel se selfmoord nie. Die pyn is nog te rou.
Boekbesonderhede
Foto te dank aan cdn24.com
Please register or log in to comment