“Ek wens ek het minder van die politiek geweet, dan sal ek my minder bekommer.”
Só het Abraham de Vries gisteraand by die Book Lounge in Kaapstad gesê oor Kerneels Breytenbach se opmerking dat sy verhale al sedert die sestigerjare die politiek van die tyd aanspreek.
De Vries se nuwe kortverhaalbundel, Verbeel jou dis somer, wat by dié geleentheid bekendgestel is, is geen uitsondering. Breytenbach meen De Vries is een van die min skrywers wat nog “betrokke” literatuur skryf.
De Vries verwys egter nie na homself op dié manier nie. “Ek is betrokke by mense,” sê hy. “Al my stories gaan oor mense en hul lewens. Maar, namate die politiek inspeel op mense se lewens, is my stories wel polities.”
Verlies, verval en misbruik kom in die verhale in sy nuwe bundel voor. De Vries het byvoorbeeld werklike koerantberigte oor moord en ander misdaad in die verhaal Leë hande verwerk.
Maar daar is ook liefde, verbeelding, drome en hoop in sy verhale. In Staan Poppie staan rek die gaste by ‘n troue hul nekke om die baie kort bruidspaar te sien. Die gaste gaan huis toe met ‘n herinnering aan liefde.
Hierdie temas word met vele simbole en sleutels in die teks na vore gebring. Om só ‘n verweefde teks te skep neem tyd. “Dit is nie vreemd vir my om ‘n storie tien keer oor te skryf en te verander nie,” sê hy.
De Vries hoor soms ‘n interessante gegewe, maar dit kan nie ‘n storie word sonder ‘n spanningselement nie. Later kry hy miskien ‘n storie wat by dié gegewe aansluit en dan begin hierdie meester van die kortverhaal woeker.
De Vries se skryfwerk gaan eindelik oor ‘n deernis met mense, baie anders as die magspel van politiek.
Book details
Please register or log in to comment